BEEMER MOTORFIETS SKENKING

 

FMM het met trots ‘n BMW motorfiets skenking ontvang van wyle Martin Johan de Hart, wat dit entoesiasties herbou het.  Sy vrou Alet, bring hulde aan haar man.

 

Martin is gebore 8 Mei 1949 en het groot geword op ‘n plot Vogelstruisfontein, in Roodepoort. Daar het hy ‘n werkswinkel met ‘n werksput tot stand gebring waar hy met gemak, sy liefde vir herstel van enige iets met meganiese en elektriese komponente, kon uitleef. Van niks na iets bruikbaars, om mee te speel of om te vermaak.  Hy was enig in sy soort om op so jong ouderdom reeds sy eie werkswinkel te kon besit.

Hy het nagte deurgewerk – solank hy betyds by die werk kon wees, het tyd nie sy lewe gerëel nie.

Op ouderdom 16, het hy van ‘n ou Ford onderstel met sy kenmerkende waterverkoeler, ‘n “hotrod” op gebou tot groot vermaak van jonk tot oud. As ek so na die fotos kyk,  was dit dalk bietjie woes met oop drade, ‘n yster raamwerk, en ou sitplekke.  Tog het menigte die speelding kon geniet op die vlaktes van vryheid.  Hul het blykbaar ‘n pad oop gery, al om die kerk, tot groot frustrasie  vir die  arme predikant.  Die gronde was ‘n gedeelte wat sy ouers aan die kerk geskenk het.  Die skenking het seker hul speelgrond opgeëis en hul het van die kans gebruik gemaak om dit nog te gebruik as die kerk se deure nie oop was nie.

Martin het  begin groter dink.  ‘n Porsche enjin in ‘n Volkswagen Karmann Ghia ingebou. Hy sou van min,  met ‘detail’ sy werk vervolmaak tot iets wat ander net van kon droom.  Op aandrang van sy pa verkoop hy dit, want die voertuig het vuur gespoeg, met ‘n enjin in wat vinniger was as wat sy ouers gedink het Martin op sy jong ouderom kon hanteer.

Sy volgende projek was n beach buggy. Van (weer) ‘n Volkswagen onderstel eiehandig opgebou tot ‘n meesterstuk van plesier met die wind deur sy hare, tot groot bewondering van sy vriende, en dalk ook menige vriendinne.  Self die bakwerk ontwerp, gegiet, gebou, geverf en aan mekaar gesit.

In 2008 kry Martin die geleentheid om weer iets aan te pak wat sy voorliefde van restourasie kan bevredig.  Die BMW  R80RT motorfiets, 1981 model,  koop hy uit ‘n boedel en sy reis begin met navorsing en die herstel van die motorfiets. Stadig en op sy tyd pak hy die projek aan.

Elke part was sorgvuldig afgehaal, skoongemaak, herstel, nagevors, soms vervang met beskikbare oorspronklike parte.  Van geel en swart ondergaan die motorfiets ‘n merkwaardige gedaante verwisseling na ‘n oorspronklike diep rooi kleur eie aan daardie tyd.

Die ekonomie steek half ‘n stokkie in die speke van die motorfiets en die vordering van die restourasie verloop nie volgens plan nie. Martin se geduld met restorasie, ken geen perke nie.

Martin het my na menige veteraan motorskoue geneem. Selfs sy kleindogter het dit op die ouderdom van 4 nie vrygespring nie.

Martin word Desember 2020 gediagnoseer met kanker. Hy verloor sy stryd teen Covid,  16 Januarie 2021.  14 Dae later verloor ek ook ons jongste dogter aan die pandemie. Riana was  haar pa se oogappel, en haar pa was haar mentor, geesgenote en ook self ‘n argitek wat saam met haar pa gewerk het vir etlike jare. Dit was ‘n geweldige dubbele skok en ongekende trauma op ons as familie.

Onverwags is ek in die posisie ingeskuif van huis op pak en die motorfiets het uitgestaan as die laaste  “kunswerk” wat Martin met liefde aangepak het. Al was dit seker ook sy langste projek, het dit vir my ‘n simbool van sy talente, sy liefde vir skeppende werke, deursettings vermoë en rustige geaartheid geword.  Ek sou dit graag wou hou, maar ek moet ons huis opgee.   Baie veranderinge wat moet plaasvind.

Ek het onthou van hoe ons Desember 2019, die Franschhoek Motormuseum  besoek het en vir Martin herhaaldelik aan die arm moes neem om aan te beweeg. Hy het elke voertuig daar, met soveel bewondering aanskou. As hy die enjin kappe kon oopmaak, sou ons dae daar moes spandeer. Die foto hierby was geneem by die Taalmonument kort voor ons besoek aan die Museum, maar ek dink dit beskryf Martin soos hy die dag  gevoel het tussen al die mooi versorgde voertuie.  Ek het met Wayne Harley, die kurator van die museum, kontak gemaak en besluit om die BMW R80RT aan die museum te skenk. So hartseer as wat dit kan wees, sal dit my gedenkplaat wees vir Martin, wat sy skoene in sy gesin volgestaan het met net die mooiste herinneringe. Swaar tye was daar beslis. Die mooi van 50 jaar saam, laat die paar afdraendes langs die pad soos mis voor die son verdwyn.

Hopelik dit sal my en die kinders  beskore wees om die museum dikwels te besoek.

Dankie aan Wayne wat die motorfiets in ontvangs geneem het met deernis, en aan die museum wat ‘n ereplekkie daarvoor afstaan.  Ek glo baie sal die pragstuk waardeer, vir nog baie jare vorentoe.

Als in liefde en ons mooi nagedagtenis aan my besonderse lewensmaat, my kinders se liefdevolle pa, en ons kleinkinders se spesiale oupa, Martin Johan de Hart.